11. En ook al die Jode wat in Moab en onder die kinders van Ammon en in Edom en wat in al die lande was, het gehoor dat die koning van Babel vir Juda ’n oorblyfsel nagelaat het; en dat hy Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, oor hulle aangestel het;
12. daarom het al die Jode teruggekom uit al die plekke waarheen hulle verdryf was, en in die land Juda na Gedálja gekom, in Mispa; en hulle het groot hoeveelhede wyn en somervrugte ingesamel.
13. Maar Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs wat in die veld was, het na Gedálja gekom in Mispa
14. en vir hom gesê: Weet u wel dat Báälis, die koning van die kinders van Ammon, Ismael, die seun van Netánja, gestuur het om u dood te slaan? Maar Gedálja, die seun van Ahíkam, het hulle nie geglo nie.