17. Soos veldwagters is hulle teen die stad rondom, omdat dit teen My wederstrewig was, spreek die Here.
18. Jou wandel en jou handel het jou dit aangedoen; dit is jou boosheid; ja, bitter is dit, ja, dit raak tot aan jou hart.
19. o My ingewande, my ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu!
20. Verwoesting op verwoesting word uitgeroep, want die hele land is verwoes; skielik is my tente verwoes, my tentdoeke in ’n oomblik.
21. Hoe lank sal ek die banier sien, die basuingeluid hoor?
22. Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie.
23. Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie.
24. Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud.
25. Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg.
26. Ek het gekyk, en die land van tuine was ’n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor die Here, voor sy toorngloed.
27. Want so sê die Here: Die hele land sal ’n wildernis word, alhoewel Ek daar geen einde aan sal maak nie.
28. Hieroor sal die aarde treur en die hemel daarbo rou dra, omdat Ek dit gespreek, My dit voorgeneem het en Ek geen berou het en daarvan nie sal terugkom nie.
29. Vir die geluid van die ruiters en boogskutters vlug die hele stad; hulle het in die bosse ingegaan en op die rotse geklim; die hele stad is verlaat, en niemand woon daarin nie.
30. En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al trek jy skarlaken klere aan, al versier jy jou met goue sieraad, al laat jy jou oë groter lyk met swart verf — tevergeefs maak jy jou mooi; minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe.
31. Want ek het gehoor ’n stem soos van een wat inmekaar krimp, ’n benoudheid soos van een wat die eerste keer baar, die stem van die dogter van Sion; sy hyg na asem, sy brei haar hande uit en sê: Wee my tog, want my siel is magteloos teenoor die moordenaars.