13. Toe stuur Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, en Nebusásban, die rábsaris, en Nergal-Saréser, die rabmag, en al die bevelhebbers van die koning van Babel — hulle het gestuur
14. en Jeremia uit die voorhof van bewaking laat haal en hom oorgegee aan Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, om hom huis toe te bring. So het hy dan onder die volk gebly.
15. Ook het die woord van die Here tot Jeremia gekom, terwyl hy in die voorhof van bewaking opgesluit was, naamlik:
16. Gaan en spreek met Ebed-Meleg, die Kusiet, en sê: So spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring my woorde oor hierdie stad ten kwade en nie ten goede nie, en dit sal voor jou oë vervul word in dié dag.