Jeremia 29:7-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die Here; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.

8. Want so spreek die Here van die leërskare, die God van Israel: Laat julle profete en julle waarsêers wat onder julle is, julle nie bedrieg nie, en luister nie na julle dromers vir wie julle laat droom nie.

9. Want hulle profeteer vir julle vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die Here.

10. Want so sê die Here: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring.

11. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.

12. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.

13. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.

14. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die Here, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die Here; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.

15. As julle sê: Die Here het vir ons profete verwek in Babel —

16. nee, so sê die Here aangaande die koning wat op die troon van Dawid sit, en aangaande die hele volk wat in hierdie stad woon, julle broers wat nie saam met julle in ballingskap uitgetrek het nie,

17. so sê die Here van die leërskare: Kyk, Ek stuur die swaard, die hongersnood en die pes onder hulle, en Ek sal hulle maak soos bedorwe vye wat te sleg is om te eet.

18. En Ek sal hulle agtervolg met die swaard, die hongersnood en die pes; en Ek sal hulle ’n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde: ’n voorwerp van vervloeking, van verbasing, van bespotting en van smaad onder al die volke waarheen Ek hulle verdryf het;

19. omdat hulle na my woorde nie geluister het nie, spreek die Here, waarmee Ek my knegte, die profete, na hulle gestuur het, vroeg en laat, sonder dat julle geluister het, spreek die Here.

Jeremia 29