35. So moet julle sê, elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer: Wat het die Here geantwoord? En wat het die Here gespreek?
36. Maar van: die Here het gelas — mag julle nie meer melding maak nie; want vir elkeen sal sy eie woord die las wees: dat julle verdraai die woorde van die lewende God, van die Here van die leërskare, onse God.
37. So moet jy aan die profeet sê: Wat het die Here jou geantwoord? En wat het die Here gespreek?
38. Maar as julle sê: Die Here het gelas — daarom, so spreek die Here: Omdat julle hierdie woord sê: Die Here het gelas — alhoewel Ek na julle gestuur het met die woorde: Julle mag nie sê: Die Here het gelas nie —
39. daarom, kyk, Ek sal julle sekerlik ophef en julle, saam met die stad wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, van my aangesig af wegwerp;
40. en Ek sal julle ’n ewige smaad oplê en ’n ewige skande wat nie vergeet sal word nie.