1. DIE woord van die Here wat tot Jeremia gekom het weens die groot droogte.
2. Juda treur en sy poorte verval; hulle sit in rou op die grond, en die geskreeu van Jerusalem gaan op.
3. En die vernames onder hulle stuur hulle ondergeskiktes na die water; hulle kom by die bakke, hulle kry geen water nie; leeg kom hulle kanne terug; hulle het beskaamd gestaan en in die skande gekom en bedek hulle hoof.
4. Weens die land wat verslae is, omdat daar geen reën op die aarde is nie, kom die landbouers in die skande, hulle bedek hulle hoof.
5. Want selfs die wildsbok in die veld lam en gooi haar lam weg, omdat daar geen jong gras is nie.
6. En wilde-esels staan op die kaal heuwels, hulle snuif die wind op soos die jakkalse; hulle oë versmag, omdat daar geen gras is nie.
7. Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o Here, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig.
8. o Verwagting van Israel, sy Verlosser in tyd van benoudheid! Waarom sou U wees soos ’n vreemdeling in die land en soos ’n reisiger wat uitdraai om te vernag?