9. Is my erfenis dan vir My ’n bont roofvoël? Is daar roofvoëls rondom teen hom? Kom, maak al die wilde diere van die veld bymekaar, laat hulle kom om te eet.
10. Baie herders het my wingerd verniel, hulle het my stuk land vertrap, hulle het my begeerlike stuk land ’n woeste wildernis gemaak,
11. hulle het dit ’n wildernis gemaak; dit treur voor My, verwoes; die hele land is verwoes, omdat daar niemand is wat dit ter harte neem nie.
12. Op al die kaal heuwels in die woestyn het verwoesters gekom, want die swaard van die Here verteer van die een end van die land tot die ander end van die land; daar is geen vrede vir enige vlees nie.
13. Hulle het koring gesaai, maar dorings gemaai; hulle het hul uitgeput sonder om baat te vind. Staan dan beskaamd oor julle inkomste, vanweë die toorngloed van die Here.