Hoséa 2:6-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En sy sal haar minnaars agternaloop, maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar nie vind nie. Dan sal sy sê: Ek wil heengaan en terugkeer na my vorige man, want toe het ek dit beter gehad as nou.

7. Ja, sy het nie erken dat Ek aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het.

8. Daarom sal Ek my koring terugneem in die oestyd en my mos op die bepaalde tyd, en wegneem my wol en my vlas wat dien om haar naaktheid te bedek.

9. Ek sal dan nou haar skaamte ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand red nie.

10. En Ek maak ’n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar sabbatte, ja, aan al haar feestye.

11. En Ek sal haar wingerdstok en haar vyeboom verwoes waarvan sy gesê het: Hierdie dinge is my hoereloon wat my minnaars my gegee het; en Ek sal dit tot ’n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit opeet.

12. So besoek Ek dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar My het sy vergeet, spreek die Here.

13. Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek.

14. Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot ’n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het.

15. En in dié dag, spreek die Here, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baäl nie.

16. Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.

17. Verder sluit Ek in dié dag vir hulle ’n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; ja, boog en swaard en oorlog sal Ek verbreek uit die land, en Ek sal hulle in veiligheid laat rus.

18. En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming.

Hoséa 2