4. My beminde het sy hand deur die deuropening gesteek; toe het my binneste oor hom in beroering gekom;
5. ek het opgestaan om vir my beminde oop te maak, terwyl my hande drup van mirre en my vingers van vloeiende mirre op die handvatsels van die grendel.
6. Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan; ek het my besinning verloor toe hy gespreek het; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie.
7. Die wagte wat in die stad rondgaan, het my aangetref; hulle het my geslaan, my gewond; die wagte by die mure het my mantel van my afgeneem.
8. Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, as julle my beminde vind, wat sal julle hom vertel? Dat ek krank is van liefde.
9. Wat is u beminde meer as ’n ander beminde, o skoonste onder die vroue — wat is u beminde meer as ’n ander beminde, dat u ons so besweer het?
10. My beminde is skitterend wit en rooi, uitnemender as tienduisend.