Hebreërs 10:15-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis;

16. want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,

17. en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.

18. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.

19. TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus

20. op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,

21. en ons ’n groot Priester oor die huis van God het,

22. laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

23. Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;

24. en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;

25. en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

26. Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,

27. maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.

28. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;

Hebreërs 10