Handelinge 8:25-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle na Jerusalem teruggegaan en die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig.

26. EN ’n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ’n eensame pad.

27. Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ’n man van Ethiópië, ’n hofdienaar, ’n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid.

28. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees.

29. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa.

30. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees?

31. En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit.

32. En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ’n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie.

33. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.

34. En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?

35. En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig.

36. En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?

37. Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.

38. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.

39. En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis.

40. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.

Handelinge 8