Handelinge 7:43-56 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

43. Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer.

44. Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het.

45. En ons vaders het dit ontvang en met Josua ingebring in die besitting van die nasies wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid

46. wat genade gevind het voor God en gevra het om ’n woonplek vir die God van Jakob te verkry.

47. En Salomo het ’n huis vir Hom gebou.

48. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê:

49. Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus?

50. Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?

51. Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.

52. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het;

53. julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!

54. En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners.

55. Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.

56. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.

Handelinge 7