Handelinge 5:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra.

10. Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe.

11. En ’n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.

12. En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo.

13. En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer.

14. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,

15. sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val.

16. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.

17. EN die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was — dit is die party van die Sadduseërs — en hulle was met nydigheid vervul,

18. en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit.

19. Maar ’n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê:

Handelinge 5