Handelinge 26:3-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. veral omdat u bekend is met al die sedes en vraagstukke onder die Jode. Daarom versoek ek u om my geduldig aan te hoor.

4. My lewe dan van my jeug af, wat van die begin af deurgebring is onder my nasie in Jerusalem, ken al die Jode,

5. omdat hulle my van dié tyd af geken het, as hulle dit wil betuig, hoe ek volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het.

6. En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat aan die vaders deur God gedoen is,

7. waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig.

8. Wat? Word dit by u as ongelooflik beskou dat God die dode opwek?

9. Wat my betref, ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasaréner moes doen.

10. Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee.

11. En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.

12. Toe ek dan daarvoor na Damaskus op reis was, met volmag en opdrag van die owerpriesters,

13. het ek, o koning, in die middel van die dag op die pad ’n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son, wat my en my reisgenote omstraal het.

14. En toe ons almal op die grond val, hoor ek ’n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.

15. Toe sê ek: Wie is U, Here? En Hy sê: Ek is Jesus wat jy vervolg.

16. Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ’n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn,

17. terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur,

Handelinge 26