7. En toe hy dit sê, het daar twis ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, en die menigte het verdeeld geraak.
8. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei.
9. Toe was daar ’n groot geroep, en die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en heftig gestry en gesê: Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as ’n gees met hom gespreek het, of ’n engel, laat ons nie teen God stry nie.
10. En toe daar ’n groot twis ontstaan het en die owerste oor duisend gevrees het dat Paulus deur hulle verskeur sou word, het hy die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring.
11. En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig.
12. EN toe dit dag geword het, het sommige van die Jode saamgespan en hulleself vervloek deur te sê dat hulle nie sou eet of drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie.
13. En daar was meer as veertig wat hierdie sameswering gemaak het.
14. Hulle het na die owerpriesters en die ouderlinge gegaan en gesê: Ons het ons met vervloeking verwens om niks te gebruik totdat ons Paulus doodgemaak het nie.
15. Laat dan nou, saam met die Raad, aan die owerste oor duisend weet om hom môre af te bring na u toe, asof u oor sy saak noukeuriger ondersoek wil doen. En ons is gereed om hom uit die weg te ruim voordat hy by u kom.
16. Maar die seun van Paulus se suster het van die hinderlaag gehoor, en hy het gekom en in die kamp gegaan en dit aan Paulus vertel.
17. En Paulus het een van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Bring hierdie jongman by die owerste oor duisend, want hy het iets om aan hom te vertel.
18. Daarop neem hy hom saam en bring hom by die owerste oor duisend en sê: Die gevangene, Paulus, het my na hom geroep en versoek om hierdie jongman na u te bring, omdat hy iets het om aan u te sê.
19. Daarop vat die owerste oor duisend hom by die hand en gaan eenkant toe en vra: Wat het jy om aan my te vertel?
20. En hy sê: Die Jode het ooreengekom om u te versoek om Paulus môre af te bring na die Raad asof hulle iets noukeurigers omtrent hom wil verneem.
21. Laat u dan nie deur hulle oorhaal nie, want meer as veertig man van hulle lê hom voor wat hulleself vervloek het om nie te eet of te drink totdat hulle hom omgebring het nie. En nou is hulle gereed en wag op u toestemming.
22. En die owerste oor duisend het die jongman laat gaan en hom bevel gegee: Vertel aan niemand dat jy dit aan my bekend gemaak het nie.
23. En hy het twee van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Hou tweehonderd soldate gereed om na Cesaréa te gaan, en sewentig ruiters en tweehonderd lig gewapende manne, teen die derde uur van die nag.