8. En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.
9. En die Here het deur ’n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie;
10. want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.
11. En hy het daar gebly ’n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer.
12. En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring
13. en gesê: Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer.
14. En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode: As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode;
15. maar as dit ’n geskil is oor ’n woord en oor name en oor ’n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie.
16. En hy het hulle van die regterstoel weggedryf.
17. En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie.
18. En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het, het hy van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Áquila. En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het ’n gelofte gedoen.
19. En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek.
20. En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie,
21. maar van hulle afskeid geneem en gesê: Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil. En hy het van Éfese afgevaar.
22. En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë.