4. En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.
5. En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is.
6. Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan.
7. En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat ’n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het.