21. Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.
22. Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was.
23. En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete!
24. Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou,
25. het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus —
26. manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus.
27. Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring.
28. Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge:
29. dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!
30. So is hulle dan weggestuur en het in Antiochíë gekom, en hulle het die menigte bymekaargeroep en die brief afgelewer.
31. En toe hulle dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging.
32. En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk.
33. En nadat hulle ’n tyd daar deurgebring het, het die broeders hulle met vrede na die apostels laat gaan.
34. Maar Silas het besluit om daar te bly.