11. En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was.
12. En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan.
13. En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word;
14. hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word.
15. En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.
16. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.