1. ’n GEBED van Hábakuk, die profeet, op die wysie van Sjigjonōt.
2. Here, ek het die tyding aangaande U verneem, ek het gevrees! Here, roep u werk in die lewe in die midde van die jare; in die midde van die jare laat dit bekend word. In toorn, dink aan ontferming.
3. God kom van Teman en die Heilige van die berg Paran. Sela. Sy majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van sy lof.
4. En glans soos sonlig is daar, ligstrale aan sy sy; en dáár is die omhulsel van sy krag.
5. Voor Hom uit loop die pes, en ’n koorsgloed trek uit agter Hom aan.
6. Hy tree op en laat die aarde wankel, Hy kyk en laat nasies opskrik; verpletterd lê die ewige berge, en neergesink die ou, ou heuwels — paaie van die ou tyd vir Hom.
7. Ek sien die tente van Kusan met onheil oordek, en die tentdoeke van die land Mídian bewe.
8. Is dit teen riviere, o Here, teen die riviere, dat u toorn ontvlam het? Of geld u grimmigheid die see dat U ry met u perde, u oorwinningswaens?