Génesis 45:17-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. En Farao het met Josef gespreek: Sê aan jou broers: Doen dit, laai julle diere en trek weg na die land Kanaän.

18. En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land.

19. Jý kry dan bevel — doen dit: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom.

20. En julle hoef geen spyt te hê oor julle huisraad nie, want die beste van die hele Egipteland is julle s’n.

21. Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis.

22. Hy het aan hulle almal, man vir man, ’n stel nuwe klere gegee; maar aan Benjamin het hy driehonderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee.

23. En net so het hy ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis.

24. Daarop het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek; en hy het aan hulle gesê: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.

25. En hulle het opgetrek uit Egipte en in die land Kanaän aangekom by hulle vader Jakob.

26. Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog — en dat hy regeerder is in die hele Egipteland — het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie.

27. Maar toe hulle hom al die woorde van Josef te kenne gee wat hy met hulle gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van Jakob, hulle vader, lewendig geword.

28. En Israel het gesê: Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.

Génesis 45