Génesis 32:20-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. julle moet sê: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het gedink: Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy aangesig sien — miskien sal hy my in guns aanneem.

21. So het die geskenk dan voor hom uit gegaan, maar hy self het dié nag in die laer gebly.

22. En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek:

23. hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het.

24. Maar Jakob het alleen agtergebly, en ’n Man het met hom geworstel tot dagbreek.

25. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom.

26. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.

27. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob.

28. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.

29. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën.

30. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.

Génesis 32