Génesis 32:14-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. tweehonderd bokooie en twintig bokke, tweehonderd skaapooie en twintig ramme,

15. dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels;

16. en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat ’n plek oop tussen trop en trop.

17. Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s’n is die goed daar voor jou?

18. dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s’n. Dit is ’n geskenk wat hy aan my heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan.

19. En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het, en gesê: Net so moet julle Esau antwoord as julle hom kry —

20. julle moet sê: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het gedink: Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy aangesig sien — miskien sal hy my in guns aanneem.

21. So het die geskenk dan voor hom uit gegaan, maar hy self het dié nag in die laer gebly.

22. En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek:

23. hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het.

24. Maar Jakob het alleen agtergebly, en ’n Man het met hom geworstel tot dagbreek.

25. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom.

26. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.

27. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob.

28. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.

Génesis 32