Génesis 25:6-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland.

7. En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd-vyf-en-sewentig jaar.

8. Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.

9. En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,

10. die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara.

11. Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï.

12. En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het —

13. dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Ádbeël en Mibsam

14. en Misma en Duma en Massa,

15. Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.

16. Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme.

17. En dit is die lewensjare van Ismael: honderd-sewen-en-dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.

18. En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.

Génesis 25