21. Toe het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel tot bedekking opgehang en die ark van die Getuienis bedek, soos die Here Moses beveel het.
22. Hy het ook die tafel in die tent van samekoms neergesit, aan die kant van die tabernakel, teen die noorde, buitekant die voorhangsel.
23. En hy het die brood daarop gerangskik voor die aangesig van die Here, soos die Here Moses beveel het.
24. Hy het ook die kandelaar in die tent van samekoms gesit, teenoor die tafel, aan die suidekant van die tabernakel.
25. En hy het die lampe opgesteek, voor die aangesig van die Here, soos die Here Moses beveel het.
26. En hy het die goue altaar in die tent van samekoms neergesit, voor die voorhangsel,
27. en reukwerk van speserye daarop aan die brand gesteek, soos die Here Moses beveel het.
28. Hy het ook die bedekking van die ingang van die tabernakel opgehang.
29. En hy het die brandofferaltaar by die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neergesit, en hy het daarop die brandoffer en die spysoffer gebring, soos die Here Moses beveel het.
30. Hy het ook die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar gesit, en hy het daar water in gegooi om mee te was.