7. En hy het die draaghoute in die ringe gesteek, aan die kante van die altaar, om dit daarmee te dra; hy het dit hol, van planke, gemaak.
8. Hy het ook die koperwaskom gemaak met sy kopervoetstuk, uit die spieëls van die diensdoende vroue wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het.
9. Hy het ook die voorhof gemaak. Aan die suidekant, na die suide toe, was daar die behangsels van die voorhof, van fyn dubbeldraad-linne, honderd el lank;
10. daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer;
11. en aan die noordekant honderd el; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
12. En aan die westekant was daar behangsels, vyftig el lank; daarby tien pilare met hulle tien voetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
13. En aan die oostekant, teen sonop, was daar vyftig el;
14. vyftien el behangsels vir die een kant, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke;
15. en vir die ander kant — aan weerskante van die poort van die voorhof — vyftien el behangsels, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke.
16. Al die behangsels van die voorhof rondom was van fyn dubbeldraad-linne;
17. en die voetstukke van die pilare was van koper, en die kramme en die ringe van die pilare van silwer; en die oortreksel van hulle toppe van silwer; en hulle self, al die pilare van die voorhof, was van silwerringe voorsien.
18. En die bedekking van die poort van die voorhof was veelkleurige werk, van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne: twintig el was die lengte, en die hoogte — tewens die breedte van die stof — vyf el, net soos die behangsels van die voorhof.