Exodus 29:27-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. En jy moet die bors van die beweegoffer heilig en die boud van die hefoffer, wat beweeg en gehef is van die wydingsram, wat vir Aäron en sy seuns geld.

28. En dit moet vir Aäron en sy seuns wees tot ’n ewige insetting van die kant van die kinders van Israel, want dit is ’n hefoffer; en dit sal ’n hefoffer wees van die kant van die kinders van Israel, van hulle dankoffers — hulle hefoffer aan die Here.

29. En die heilige klere van Aäron moet vir sy seuns ná hom wees, om hulle daarin te salf en as priesters aan te stel.

30. Die een van sy seuns wat in sy plek priester word, wat in die tent van samekoms sal ingaan om in die heiligdom te dien, moet dit sewe dae lank aantrek.

31. En jy moet die wydingsram neem en sy vleis in ’n heilige plek kook.

32. Dan moet Aäron en sy seuns die ram se vleis eet en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die tent van samekoms.

33. En hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle as priesters aangestel en geheilig is; maar ’n onbevoegde mag daarvan nie eet nie, want dit is heilig.

34. En as daar van die vleis van die wydingsoffer of van die brood tot die môre toe oorbly, moet jy wat oor is, met vuur verbrand; dit mag nie geëet word nie, want dit is heilig.

35. So moet jy dan met Aäron en sy seuns doen net soos Ek jou beveel het. Sewe dae lank moet hulle wyding duur.

36. Jy moet ook daagliks ’n sondofferbul tot versoening berei en die altaar ontsondig deur daarvoor versoening te doen; en jy moet dit salf om dit te heilig.

37. Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit heilig. So sal dan die altaar hoogheilig word: elkeen wat aan die altaar raak, word heilig.

Exodus 29