25. Neem dit dan uit hulle hand en steek dit op die altaar aan die brand, bo-op die brandoffer, as lieflike geur voor die aangesig van die Here. Dit is ’n vuuroffer aan die Here.
26. En neem die bors van die wydingsram van Aäron en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here; daarna moet dit jou deel wees.
27. En jy moet die bors van die beweegoffer heilig en die boud van die hefoffer, wat beweeg en gehef is van die wydingsram, wat vir Aäron en sy seuns geld.
28. En dit moet vir Aäron en sy seuns wees tot ’n ewige insetting van die kant van die kinders van Israel, want dit is ’n hefoffer; en dit sal ’n hefoffer wees van die kant van die kinders van Israel, van hulle dankoffers — hulle hefoffer aan die Here.
29. En die heilige klere van Aäron moet vir sy seuns ná hom wees, om hulle daarin te salf en as priesters aan te stel.
30. Die een van sy seuns wat in sy plek priester word, wat in die tent van samekoms sal ingaan om in die heiligdom te dien, moet dit sewe dae lank aantrek.