22. En neem van die ram die vet en die vetstert, ook die vet wat oor die binnegoed is, en die lap aan die lewer en die twee niere met die vet wat daaraan is, en die regterboud — want dit is ’n wydingsram —
23. en een ronde brood en een oliebroodkoek en een platkoek uit die mandjie met ongesuurde koeke wat voor die aangesig van die Here is.
24. En lê dit alles op die hande van Aäron en op die hande van sy seuns, en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here.
25. Neem dit dan uit hulle hand en steek dit op die altaar aan die brand, bo-op die brandoffer, as lieflike geur voor die aangesig van die Here. Dit is ’n vuuroffer aan die Here.
26. En neem die bors van die wydingsram van Aäron en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here; daarna moet dit jou deel wees.
27. En jy moet die bors van die beweegoffer heilig en die boud van die hefoffer, wat beweeg en gehef is van die wydingsram, wat vir Aäron en sy seuns geld.
28. En dit moet vir Aäron en sy seuns wees tot ’n ewige insetting van die kant van die kinders van Israel, want dit is ’n hefoffer; en dit sal ’n hefoffer wees van die kant van die kinders van Israel, van hulle dankoffers — hulle hefoffer aan die Here.
29. En die heilige klere van Aäron moet vir sy seuns ná hom wees, om hulle daarin te salf en as priesters aan te stel.