Exodus 26:14-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Jy moet ook vir die tent ’n dekkleed van rooigeverfde ramsvelle maak en ’n dekkleed van robbevelle daar bo-oor.

15. JY moet ook vir die tabernakel die regopstaande style van akasiahout maak.

16. Die lengte van die styl moet tien el wees, en anderhalf el die breedte van elke styl.

17. Elke styl moet twee tappe hê wat met mekaar verbind is. So moet jy dit maak vir al die style van die tabernakel.

18. En die style vir die tabernakel moet jy maak: twintig style aan die suidekant, na die suide toe.

19. Jy moet ook veertig silwervoetstukke onder die twintig style maak: twee voetstukke onder die een styl vir sy twee tappe en twee voetstukke onder die ander styl vir sy twee tappe.

20. En vir die ander sykant van die tabernakel, aan die noordekant, twintig style

21. met hulle veertig silwervoetstukke: twee voetstukke onder die een styl en twee voetstukke onder die ander styl.

22. En vir die agterkant van die tabernakel, teen die weste, moet jy ses style maak.

23. Ook moet jy twee style maak vir die hoeke van die tabernakel, aan die agterkant.

24. En hulle moet van onder dubbel wees, en net so moet hulle bo dubbel wees tot by die eerste ring. So moet dit met altwee wees; hulle moet die twee hoeke vorm.

25. So moet daar dan agt style wees met hulle silwervoetstukke, sestien voetstukke: twee voetstukke onder die een styl en twee voetstukke onder die ander styl.

Exodus 26