9. By alle sake van ontvreemding, of dit gaan oor ’n bees, oor ’n esel, oor kleinvee, oor klere of oor enigiets wat verloor is, waarvan iemand sê: Dit is myne! — moet die saak van altwee voor die owerhede kom; die een wat die owerhede skuldig verklaar, moet aan sy naaste dubbel vergoeding gee.
10. As iemand aan sy naaste ’n esel of bees of stuk kleinvee of enige dier gee om op te pas, en dit gaan dood of kry ’n ongeluk of word weggevoer sonder dat iemand dit sien,
11. dan moet die eed by die Here tussen hulle twee beslis, of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie; en die eienaar moet daarmee tevrede wees, en die ander hoef geen vergoeding te gee nie.
12. Maar as dit van hom weggesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee.
13. As dit verskeur is, moet hy dit as bewys bring; wat verskeur is, hoef hy nie te vergoed nie.
14. En as iemand van sy naaste iets te leen vra, en dit kry ’n ongeluk of gaan dood terwyl die eienaar daar nie by is nie, moet hy ten volle vergoeding gee.
15. As die eienaar daarby gewees het, hoef hy geen vergoeding te gee nie. As dit gehuur was, kom die huurgeld daarvoor.
16. As iemand ’n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en met haar gemeenskap het, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop.
17. As haar vader beslis weier om haar aan hom te gee, moet hy geld gee volgens die huweliksprys vir jongmeisies.
18. Die towerheks mag jy nie laat lewe nie.
19. Elkeen wat met ’n dier gemeenskap het, moet sekerlik gedood word.
20. Hy wat aan die gode offer, behalwe aan die Here alleen, moet met die banvloek getref word.
21. Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
22. Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie.
23. As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor,