Exodus 21:1-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN dit is die verordeninge wat jy hulle moet voorhou:

2. As jy ’n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan.

3. As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word.

4. As sy heer aan hom ’n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat word.

5. Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie —

6. dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ’n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.

7. En as iemand sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie soos die slawe weggaan nie.

8. As sy haar heer nie beval nie wat haar vir homself bestem het, moet hy haar laat loskoop. Hy is nie geregtig om haar aan ’n vreemde volk te verkoop nie, omdat hy troueloos met haar gehandel het.

9. Maar as hy haar vir sy seun bestem, moet hy met haar handel volgens die reg van die dogters;

10. as hy vir hom ’n ander een neem, mag hy haar voedsel, haar klere en haar huweliksgemeenskap nie verminder nie.

11. En as hy hierdie drie dinge nie vir haar doen nie, kan sy verniet weggaan, sonder geld.

12. Hy wat ’n mens slaan, dat hy sterwe, moet sekerlik gedood word.

13. Maar as hy dit daar nie op toegelê het nie, maar God dit sy hand laat ontmoet het, dan sal Ek jou ’n plek aanwys waarheen hy kan vlug.

14. Maar as iemand moedswillig teen sy naaste handel, om hom met lis dood te maak, moet jy hom van my altaar af wegneem, om te sterwe.

15. En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word.

16. En hy wat ’n mens steel en hom verkoop — of as hy in sy besit gevind word — dié moet sekerlik gedood word.

17. En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.

18. En as manne twis en die een die ander slaan met ’n klip of met die vuis, sodat hy nie sterwe nie, maar bedlêend word —

19. as hy weer opstaan en buite met sy stok rondloop, moet hy wat geslaan het, ongestraf bly; net sy tydverlies moet hy vergoed en sorg dat hy heeltemal gesond word.

20. En as iemand sy slaaf of slavin met ’n stok slaan, dat dié onder sy hand sterwe, moet dit sekerlik gewreek word.

Exodus 21