Exodus 16:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE hulle van Elim af wegtrek, het die hele vergadering van die kinders van Israel in die woestyn Sin gekom, wat tussen Elim en Sinai lê, op die vyftiende dag van die tweede maand ná hulle uittog uit Egipteland.

2. En die hele vergadering van die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron in die woestyn gemurmureer.

3. En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die Here gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe.

4. Toe sê die Here vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie.

5. En op die sesde dag, as hulle berei wat hulle inbring, sal dit dubbel soveel wees as wat hulle daagliks insamel.

6. Toe sê Moses en Aäron aan al die kinders van Israel: Vanaand, dan sal julle weet dat die Here julle uit Egipteland uitgelei het.

7. En môre vroeg, dan sal julle die heerlikheid van die Here sien, omdat Hy julle murmureringe teen die Here gehoor het — want wat is ons, dat julle teen ons murmureer?

8. Daarop sê Moses: Dít sal gebeur as die Here julle in die aand vleis gee om te eet en in die môre volop brood, omdat die Here julle murmureringe hoor wat julle teen Hom murmureer. Want wat is ons? Julle murmureringe is nie teen ons nie, maar teen die Here.

9. Verder het Moses met Aäron gespreek: Sê aan die hele vergadering van die kinders van Israel: Kom nader voor die aangesig van die Here, want Hy het julle murmureringe gehoor.

10. En onderwyl Aäron die hele vergadering van die kinders van Israel toespreek, draai hulle na die woestyn toe en meteens verskyn die heerlikheid van die Here in die wolk.

11. Ook het die Here met Moses gespreek en gesê:

12. Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor; spreek met hulle en sê: Teen die aand sal julle vleis eet en in die môre met brood versadig word; en julle sal weet dat Ek die Here julle God is.

13. En in die aand het daar kwartels opgekom en die laer oordek. En in die môre was daar ’n doulaag rondom die laer.

14. En nadat die doulaag opgetrek het, het daar oor die woestyn iets gelê wat fyn en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond.

Exodus 16