Exodus 15:6-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. o Here, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o Here, verpletter die vyand.

7. En in u grote hoogheid werp U diegene neer wat teen U opstaan. U stuur u toorngloed uit: dit verteer hulle soos ’n stoppel.

8. En deur die geblaas van u neus het die waters hulle opgestapel, die strome het bly staan soos ’n wal, die watervloede het styf geword in die hart van die see.

9. Die vyand het gesê: Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel, my begeerte sal versadig word van hulle; ek sal my swaard trek, my hand sal hulle uitroei.

10. U het met u asem geblaas: die see het hulle oordek; soos lood het hulle gesink in die geweldige waters.

11. o Here, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?

12. U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind.

13. U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer.

14. Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder; weë het die inwoners van Filistéa aangegryp.

Exodus 15