2. En die Here het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die Here, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly.
3. Wat betref die vors, hy moet as vors daarin sit om brood te eet voor die aangesig van die Here; van die voorportaal van die poort af moet hy ingaan en op dieselfde weg daar uitgaan.
4. Daarop het hy my gebring na die noordpoort, aan die voorkant van die huis; ek kyk toe en sien dat die heerlikheid van die Here die huis van die Here vervul; toe het ek op my aangesig geval.
5. En die Here het vir my gesê: Mensekind, gee ag daarop en kyk met jou oë en hoor met jou ore alles wat Ek jou sal sê aangaande al die verordeninge van die huis van die Here en al die wette daarvan; en gee ag op die ingang in die huis deur al die uitgange van die heiligdom.
6. En sê aan die wederstrewiges, aan die huis van Israel: So spreek die Here Here: Laat dit genoeg wees met al julle gruwels, o huis van Israel!