16. Hulle moet in my heiligdom ingaan, en hulle moet na my tafel toe nader kom om My te dien en my diens waarneem.
17. En as hulle na die poorte van die binneste voorhof ingaan, moet hulle linneklere aantrek; maar wol mag op hulle nie kom as hulle dien in die poorte van die binneste voorhof en daar binnekant nie.
18. Linne-hoofversiersels moet op hulle hoof wees en linnebroeke moet aan hulle heupe wees; hulle mag hul nie gord met iets wat laat sweet nie.
19. En as hulle uitgaan na die buitenste voorhof, na die buitenste voorhof na die volk toe, moet hulle hul klere uittrek waar hulle in gedien het, en dit neersit in die heilige kamers, en hulle moet ander klere aantrek, sodat hulle die volk nie heilig maak met hul klere nie.
20. En hulle moet hul hoof nie kaal skeer of die hare lank laat groei nie; behoorlik moet hulle hul hoofde skeer.
21. Ook mag geen priester wyn drink as hy in die binneste voorhof ingaan nie.
22. Ook mag hulle geen weduwee of een wat verstoot is, vir hulle as vrou neem nie; maar jongmeisies uit die geslag van die huis van Israel of ’n weduwee wat deur ’n priester as weduwee agtergelaat is, mag hulle neem.
23. En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is.
24. En oor ’n regsaak moet hulle optree om reg te spreek, volgens my verordeninge moet hulle dit uitoefen; en hulle moet my wette en my insettinge hou op al my feestye en my sabbatte heilig.
25. En hy mag by ’n lyk nie kom, sodat hy onrein word nie; net maar aan ’n vader of ’n moeder of ’n seun of ’n dogter, aan ’n broer of ’n suster wat nie aan ’n man toebehoort nie, mag hulle hul verontreinig.
26. En ná sy reiniging moet hulle vir hom sewe dae tel.
27. En op die dag as hy in die heiligdom ingaan, in die binneste voorhof, om in die heiligdom te dien, moet hy sy sondoffer bring, spreek die Here Here.
28. En dit sal vir hulle ’n erfdeel wees: Ek is hulle erfdeel; en julle mag aan hulle geen besitting in Israel gee nie: Ek is hulle besitting.
29. Die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer, dié moet hulle eet; en alles wat in Israel onder die ban is, moet vir hulle wees.
30. En die beste van al die eerstelinge van alles en elke offergawe van alles, van al julle offergawes, moet vir die priesters wees; ook moet julle die eerstelinge van julle growwe meel aan die priester gee, om ’n seën op jou huis te laat rus.