Eségiël 39:16-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En ook sal die naam van ’n stad wees Hamóna. So sal hulle dan die land reinig.

17. En jy, mensekind, so spreek die Here Here: Sê vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, ’n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed!

18. Vlees van die helde sal julle eet en bloed van die vorste van die aarde drink — ramme, lammers en bokke en stiere, vetgemaakte diere van Basan almal saam —

19. vet sal julle eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is, van my slagoffer wat Ek vir julle geslag het.

20. En julle sal aan my tafel versadig word van perde en ruiters, van helde en alle soorte krygsmanne, spreek die Here Here.

21. En Ek sal my heerlikheid onder die nasies bring, en al die nasies sal my strafgerig sien wat Ek voltrek het, en my hand wat Ek op hulle gelê het.

22. En die huis van Israel sal weet dat Ek die Here hulle God is, van dié dag af en verder.

23. En die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; omdat hulle teen My troubreuk begaan het, het Ek my aangesig vir hulle verberg en hulle in die hand van hul teëstanders oorgegee, sodat hulle almal deur die swaard geval het.

24. Volgens hulle onreinheid en hulle oortredinge het Ek met hulle gehandel en my aangesig vir hulle verberg.

25. Daarom, so sê die Here Here: Nou sal Ek die lot van Jakob verander en My ontferm oor die hele huis van Israel en ywer vir my heilige Naam.

26. En hulle sal hul smaad vergeet en al hul ontrou wat hulle teen My begaan het, as hulle in hul land veilig woon en daar niemand is wat hulle verskrik nie.

27. As Ek hulle terugbring uit die volke en hulle versamel uit die lande van hulle vyande, sal Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van baie nasies.

Eségiël 39