14. Dan sal Ek hulle waters laat besink en hulle riviere laat vloei soos olie, spreek die Here Here.
15. As Ek Egipteland ’n wildernis maak en die land woes lê, van sy volheid beroof, as Ek almal wat daarin woon, verslaan het, dan sal hulle weet dat Ek die Here is.
16. ’n Klaaglied is dit, en hulle moet dit sing; die dogters van die nasies moet dit sing; hulle moet dit sing oor Egipte en oor sy hele menigte, spreek die Here Here.
17. En in die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
18. Mensekind, weeklaag oor die menigte van Egipte, en laat hulle neerdaal (hy met die dogters van geweldige nasies) in die onderste plekke van die aarde, by die wat in die kuil neergedaal het.
19. Bo wie is jy skoon? Daal af, en laat jou neerlê by die onbesnedenes.
20. Onder die wat deur die swaard verslaan is, sal hulle val; die swaard is aangegee; trek hom weg saam met sy hele menigte.
21. Die magtigste helde sal hom, met sy helpers, toespreek uit die doderyk uit: Hulle het neergedaal, hulle lê daar — die onbesnedenes, verslaan deur die swaard.
22. Daar is Assur en sy hele menigte; hulle grafte is rondom hom; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard;
23. wie se grafte gemaak is in die uithoeke van die kuil, en sy menigte is rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat skrik versprei het in die land van die lewendes.
24. Daar is Elam en sy hele menigte rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat onbesnede neergedaal het in die onderste plekke van die aarde, wat skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes en nou hulle skande dra by die wat in die kuil neergedaal het.
25. Onder die wat verslaan is, het hulle vir hom ’n bed gemaak saam met sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat skrik voor hulle versprei is in die land van die lewendes; en nou dra hulle hul skande by die wat in die kuil neergedaal het. Onder die wat verslaan is, is hy neergelê.