Eségiël 32:13-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En Ek sal al sy vee laat omkom by die groot waters; en geen mensevoet sal dit weer laat roer nie en geen dier se kloue dit troebel maak nie.

14. Dan sal Ek hulle waters laat besink en hulle riviere laat vloei soos olie, spreek die Here Here.

15. As Ek Egipteland ’n wildernis maak en die land woes lê, van sy volheid beroof, as Ek almal wat daarin woon, verslaan het, dan sal hulle weet dat Ek die Here is.

16. ’n Klaaglied is dit, en hulle moet dit sing; die dogters van die nasies moet dit sing; hulle moet dit sing oor Egipte en oor sy hele menigte, spreek die Here Here.

17. En in die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

18. Mensekind, weeklaag oor die menigte van Egipte, en laat hulle neerdaal (hy met die dogters van geweldige nasies) in die onderste plekke van die aarde, by die wat in die kuil neergedaal het.

19. Bo wie is jy skoon? Daal af, en laat jou neerlê by die onbesnedenes.

20. Onder die wat deur die swaard verslaan is, sal hulle val; die swaard is aangegee; trek hom weg saam met sy hele menigte.

21. Die magtigste helde sal hom, met sy helpers, toespreek uit die doderyk uit: Hulle het neergedaal, hulle lê daar — die onbesnedenes, verslaan deur die swaard.

22. Daar is Assur en sy hele menigte; hulle grafte is rondom hom; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard;

23. wie se grafte gemaak is in die uithoeke van die kuil, en sy menigte is rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat skrik versprei het in die land van die lewendes.

24. Daar is Elam en sy hele menigte rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat onbesnede neergedaal het in die onderste plekke van die aarde, wat skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes en nou hulle skande dra by die wat in die kuil neergedaal het.

25. Onder die wat verslaan is, het hulle vir hom ’n bed gemaak saam met sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat skrik voor hulle versprei is in die land van die lewendes; en nou dra hulle hul skande by die wat in die kuil neergedaal het. Onder die wat verslaan is, is hy neergelê.

26. Daar is Meseg-Tubal en sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat hulle skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes.

27. Maar hulle lê nie by die helde wat geval het uit die onbesnedenes, wat na die doderyk neergedaal het saam met hulle oorlogswapens en wie se swaarde onder hulle hoofde gesit is nie; wie se ongeregtighede nogtans op hulle gebeente is, omdat die skrik vir die helde in die land van die lewendes was.

28. Jy sal ook verbreek word onder die onbesnedenes, en jy sal lê by die wat deur die swaard verslaan is.

29. Daar is Edom, sy konings en al sy vorste, wat ondanks hulle dapperheid neergelê is by die wat verslaan is deur die swaard; hulle lê by die onbesnedenes en by die wat in die kuil neergedaal het.

Eségiël 32