Eségiël 29:1-7 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. IN die tiende jaar, in die tiende maand, op die twaalfde van die maand, het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

2. Mensekind, rig jou aangesig teen Farao, die koning van Egipte, en profeteer teen hom en teen die hele Egipte.

3. Spreek en sê: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Farao, koning van Egipte, jou groot draak wat in jou strome lê, wat sê: My stroom is myne, en ek het dit vir my gemaak.

4. Maar Ek sal hake in jou kakebene slaan en die visse van jou strome aan jou skubbe laat klewe; en Ek sal jou uit jou strome optrek, saam met al die visse van jou strome wat aan jou skubbe klewe.

5. En Ek sal jou wegwerp in die woestyn, jou en al die visse van jou strome; op die oop veld sal jy val; jy sal nie bymekaargemaak of versamel word nie; aan die wilde diere van die aarde en aan die voëls van die hemel gee Ek jou as voedsel.

6. En al die inwoners van Egipte sal weet dat Ek die Here is, omdat hulle vir die huis van Israel ’n rietstok is —

7. as Israel jou met die hand aanvat, knak jy en skeur hulle hele skouer oop; en as hulle op jou leun, dan breek jy en laat al hulle lendene wankel.

Eségiël 29