Deuteronómium 6:13-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Jy moet die Here jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.

14. Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie —

15. want die Here jou God is ’n jaloerse God by jou — sodat die toorn van die Here jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.

16. Julle mag die Here julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie.

17. Julle moet die gebooie van die Here julle God en sy getuienisse en sy insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou.

18. En jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die Here, dat dit met jou goed kan gaan en jy kan inkom en in besit neem die goeie land wat die Here aan jou vaders met ’n eed beloof het,

19. terwyl Hy al jou vyande voor jou uit verjaag soos die Here gespreek het.

20. As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die Here onse God julle beveel het?

21. dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die Here het ons deur ’n sterke hand uit Egipte uitgelei.

22. En die Here het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen.

23. En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met ’n eed beloof het.

24. En die Here het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.

25. En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die Here onse God soos Hy ons beveel het.

Deuteronómium 6