16. Toe sê die Here vir Moses: Kyk, jy ontslaap met jou vaders, en hierdie volk sal opstaan, en hulle sal die vreemde gode van die land waarheen hulle gaan, in sy midde agternahoereer en My verlaat en my verbond verbreek wat Ek met hulle gemaak het.
17. Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom, omdat onse God nie onder ons is nie?
18. Maar Ek sal op dié dag my aangesig heeltemal verberg weens al die kwaad wat hulle gedoen het; want hulle het na ander gode afgewyk.
19. Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Israel; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My ’n getuie teen die kinders van Israel kan wees.
20. Want Ek sal hulle inbring in die land wat Ek aan hulle vaders met ’n eed beloof het, wat oorloop van melk en heuning, en hulle sal eet en versadig en vet word; dan sal hulle afwyk na ander gode en dié dien, en hulle sal My verag en my verbond verbreek.