3. dan sal die Here jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het.
4. Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die Here jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.
5. En die Here jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders.
6. En die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.
7. En die Here jou God sal al hierdie vloeke op jou vyande en op jou haters lê wat jou vervolg het.
8. Maar jý sal weer na die stem van die Here luister en al sy gebooie doen wat ek jou vandag beveel.
9. En die Here jou God sal die goeie aan jou oorvloedig gee in al die werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land; want die Here sal weer oor jou ten goede bly wees soos Hy bly was oor jou vaders,
10. as jy na die stem van die Here jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die Here jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.
11. Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie.
12. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
13. Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
14. Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.