Deuteronómium 12:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIT is die insettinge en die verordeninge wat julle sorgvuldig moet hou in die land wat die Here, die God van jou vaders, jou gegee het om dit in besit te neem al die dae wat julle op die aarde lewe.

2. Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom.

3. En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.

4. So mag julle nie doen met die Here julle God nie;

5. maar die plek wat die Here julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom.

6. En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte- en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee.

7. En daar moet julle voor die aangesig van die Here julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin die Here jou God jou geseën het.

8. Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie — elkeen net maar wat reg is in sy eie oë.

9. Want julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat die Here jou God jou sal gee nie.

10. Maar julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die Here julle God julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en julle sal veilig woon.

11. Dan moet julle na die plek wat die Here julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle keurgelofte-offers wat julle die Here sal belowe.

12. En julle moet vrolik wees voor die aangesig van die Here julle God, julle en julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slavinne en die Leviet wat in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie.

13. Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie.

Deuteronómium 12