1. EN daar was ’n lang oorlog tussen die huis van Saul en die huis van Dawid, en Dawid het altyd sterker geword, maar die huis van Saul altyd swakker.
2. EN vir Dawid is daar seuns in Hebron gebore. En sy eersgeborene was Amnon, by Ahínoam uit Jísreël;
3. en sy tweede was Kíleab, by Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet; en die derde was Absalom, die seun van Máäga, die dogter van Talmai, die koning van Gesur;
4. en die vierde Adónia, die seun van Haggit; en die vyfde Sefátja, die seun van Abítal;
5. en die sesde Jítream, by Egla, die vrou van Dawid. Hulle is vir Dawid in Hebron gebore.
6. EN onderwyl daar oorlog was tussen die huis van Saul en die huis van Dawid, was Abner besig om homself te versterk in die huis van Saul.
7. Saul het naamlik ’n byvrou gehad wie se naam Rispa was, die dogter van Aja; en Isbóset het vir Abner gesê: Waarom het jy by die byvrou van my vader ingegaan?