12. Maar sy sê vir hom: Asseblief nie, my broer, onteer my nie, want so iets mag in Israel nie gedoen word nie; moenie so ’n skande begaan nie.
13. Waar sou ék tog met my skande heen, en jý sou soos een van die dwase in Israel wees; spreek dan tog nou met die koning, want hy sal my nie van jou terughou nie.
14. Maar hy wou nie na haar luister nie en het haar oorweldig en haar onteer en met haar gemeenskap gehad.
15. Toe het Amnon ’n baie groot afkeer van haar gekry, ja, die afkeer wat hy van haar gekry het, was groter as die liefde waarmee hy haar liefgehad het; en Amnon sê vir haar: Staan op, gaan weg!
16. Maar sy sê vir hom: Aangaande die kwaad om my weg te stuur, dit is groter as die ander wat jy my aangedoen het. Maar hy wou nie na haar luister nie.
17. Daarop roep hy sy kneg wat hom bedien, en sê: Stuur hierdie vrou tog van my af weg buitentoe, en sluit die deur agter haar toe.
18. En sy het ’n lang rok met moue aangehad, want sulke mantels het die koninklike dogters wat maagde was, gedra. Toe sy bediende haar buitentoe uitgebring en die deur agter haar toegesluit het,
19. het Tamar as op haar hoof gestrooi en daardie lang rok met moue geskeur; daarby het sy haar hand op haar hoof gelê en aldeur geloop en weeklaag.
20. En haar broer Absalom sê vir haar: Was jou broer Amnon by jou? Swyg dan nou, my suster! Hy is jou broer, sit jou hart nie op hierdie saak nie. So het Tamar dan as ’n verlatene in die huis van haar broer Absalom gebly.
21. Toe koning Dawid al hierdie dinge hoor, het hy baie kwaad geword.
22. Maar Absalom het met Amnon geen kwaad of goed gepraat nie, maar Absalom het Amnon gehaat, omdat hy sy suster Tamar onteer het.
23. En ná twee volle jare het Absalom skeerders gehad in Baäl-Hasor wat by Efraim is, en Absalom het al die seuns van die koning genooi.