2 Kronieke 32:10-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. So sê Sánherib, die koning van Assirië: Waarop vertrou julle, dat julle daar ingesluit bly sit in Jerusalem?

11. Verlei Jehiskía julle nie, om julle van honger en dors te laat sterwe deur te sê: Die Here onse God sal ons red uit die hand van die koning van Assirië?

12. Het dieselfde Jehiskía nie sy hoogtes en sy altare verwyder en aan Juda en Jerusalem dít gesê nie: Voor één altaar moet julle jul neerbuig en daarop offerrook laat opgaan?

13. Weet julle nie wat ék en my vaders aan al die volke van die lande gedoen het nie? Het die gode van die nasies van die lande ooit hulle land uit my hand kon red?

14. Wie was daar onder al die gode van daardie nasies wat my vaders met die banvloek getref het, wat sy volk uit my hand kon red — dat julle God julle uit my hand sou kan red?

15. Laat Jehiskía julle dan nou nie bedrieg en julle nie op so ’n manier verlei nie; en glo hom nie, want geen enkele god van enige nasie of koninkryk het sy volk uit my hand of uit die hand van my vaders kon verlos nie; hoeveel minder sal julle God julle uit my hand kan verlos?

16. Sy dienaars het nog meer teen die Here God gespreek en teen sy kneg Jehiskía.

17. Hy het ook ’n brief geskrywe om die Here, die God van Israel, te smaad en teen Hom te spreek deur te sê: Soos die gode van die nasies van die lande wat hulle volk uit my hand nie gered het nie, so sal die God van Jehiskía sy volk uit my hand nie red nie.

18. En hulle het hardop in die Joodse taal geroep na die manskappe van Jerusalem wat op die muur was, om dié bevrees en verskrik te maak, sodat hulle die stad kon inneem.

19. En hulle het oor die God van Jerusalem gespreek soos oor die gode van die volke van die aarde — ’n maaksel van mensehande.

20. Maar toe koning Jehiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep het,

21. stuur die Here ’n engel, en dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met ’n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het; en toe hy in die huis van sy god kom, het die wat uit sy eie liggaam voortgekom het, hom daar met die swaard neergeslaan.

22. En die Here het Jehiskía en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sánherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle rondom tot rus gebring.

2 Kronieke 32