5. En Amásia het Juda bymekaar laat kom en hulle opgestel volgens die families, volgens die owerstes oor duisend en volgens die owerstes oor honderd, die hele Juda en Benjamin, en hy het hulle gemonster van twintig jaar oud en daarbo, en bevind dat hulle driehonderdduisend uitgesoektes was wat op kommando moes uittrek, wat spies en skild hanteer.
6. Ook het hy uit Israel honderdduisend dapper helde vir honderd talente silwer gehuur.
7. Toe kom daar ’n man van God na hom en sê: o Koning, laat die kommando van Israel nie saam met u gaan nie, want die Here is nie met Israel, met al die kinders van Efraim nie.
8. Maar gaan u alleen, tree moedig op in die geveg; God sal u laat val voor die vyand; want by God is krag om te help of te laat val.
9. Maar Amásia sê aan die man van God: En wat moet met die honderd talente gemaak word wat ek aan die troepe van Israel gegee het? En die man van God antwoord: Die Here kan u baie meer gee as dit.
10. Toe het Amásia hulle afgesonder, naamlik die troepe wat uit Efraim na hom gekom het, om na hulle woonplek te trek; maar hulle het baie kwaad geword vir Juda en teruggegaan na hulle woonplek in gloeiende toorn.
11. Maar Amásia het moed geskep en sy manskappe aangevoer en die Soutdal ingetrek en die kinders van Seïr, tienduisend, verslaan.
12. En tienduisend het die kinders van Juda lewendig as gevangenes weggevoer en hulle op die top van die krans gebring en hulle van die top van die krans afgegooi, sodat hulle almal verpletter is.
13. Maar die manskappe van die troepe wat Amásia laat teruggaan het om nie saam met hom in die oorlog te trek nie, het ’n plundertog onderneem in die stede van Juda, van Samaría af tot by Bet-Horon, en drieduisend van hulle verslaan en baie buit geroof.