2 Kronieke 21:10-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. So het die Edomiete dan van Juda afvallig geword, tot vandag toe; in dieselfde tyd het Libna afvallig geword onder sy mag uit, want hy het die Here, die God van sy vaders, verlaat.

11. Hy het ook hoogtes op die berge van Juda gemaak en die inwoners van Jerusalem laat hoereer en Juda verlei.

12. Toe kom daar ’n brief van die profeet Elía by hom aan om te sê: So spreek die Here, die God van u vader Dawid: Omdat u in die weë van u vader Jósafat en in die weë van Asa, die koning van Juda, nie gewandel het nie,

13. maar gewandel het in die weg van die konings van Israel en Juda, en die inwoners van Jerusalem laat hoereer het volgens die hoererye van die huis van Agab, en selfs u broers, die huis van u vader, vermoor het, wat beter was as u —

14. kyk, die Here sal ’n groot plaag stuur onder u volk en onder u seuns en onder u vroue en onder al u goed,

15. en u self sal aan baie siektes ly, aan ’n siekte van u ingewande, totdat u ingewande vanweë die siekte uitkom, jare lank.

16. Toe verwek die Here teen Joram die gees van die Filistyne en van die Arabiere wat langsaan die Kusiete is —

17. hulle het teen Juda opgetrek en dit verower en al die goed weggevoer wat in die huis van die koning te vinde was, selfs ook sy seuns en sy vroue, sodat daar vir hom geen seun oorgebly het nie, behalwe Jóahas, die jongste van sy seuns.

18. En ná dit alles het die Here hom in sy ingewande aangetas met ’n siekte waar geen genesing voor was nie.

19. En ná enige tyd, naamlik teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het; en sy volk het vir hom geen wierookbrand gemaak soos die brand vir sy vaders nie.

20. Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het en het agt jaar in Jerusalem geregeer; en hy het heengegaan sonder dat hulle hom terug verlang het; en hy is begrawe in die stad van Dawid, maar nie in die grafte van die konings nie.

2 Kronieke 21