1. EN toe Rehábeam die koningskap bevestig het en hy sterk was, het hy die wet van die Here verlaat, en die hele Israel saam met hom.
2. Toe het Sisak, die koning van Egipte, in die vyfde jaar van koning Rehábeam, teen Jerusalem opgetrek — omdat hulle ontrou teenoor die Here gehandel het —
3. met twaalfhonderd strydwaens en sestigduisend perderuiters; en ontelbaar was die manskappe wat saam met hom uit Egipte gekom het: Líbiërs, Sukkiete en Kusiete.
4. En hy het die versterkte stede ingeneem wat aan Juda behoort het, en tot by Jerusalem gekom.
5. Daarop kom die profeet Semája na Rehábeam en die owerstes van Juda wat vanweë Sisak in Jerusalem bymekaargekom het, en sê vir hulle: So spreek die Here: Júlle het My verlaat; daarom gee Ék julle ook oor in die hand van Sisak.
6. Hierop het die owerstes van Israel en die koning hulle verootmoedig en gesê: Die Here is regverdig.